Tuisblad Bestellings Boeke Geskiedenis Skakels Kontak my
   

Vandat ek my verstand gekry het, speel ek kitaar. Skoolvakansies het ons op die familieplaas by my ouma en oom gaan kuier en was die maak van musiek deel hiervan gewees. Die betrokke plase Swartkop en Sandkuil is ongeveer 65 km vanaf Van Zylsrus in die hartjie van die Kalahari geleë. Dit het dan so gebeur dat ons as kinders ook met die werk op die plaas betrokke geraak het soos byvoorbeeld die haal van vuurmaakhout met die wa en donkies, regmaak van drade, drinkbakke van die vee, ens.

Die trek met vee gedurende aanhoudende droogtes was dan ook deel van die vakansiewerk gewees. So het dit dan gebeur dat een van die komposisies op die album tydens so 'n trek gefinaliseer is. "Kurumanrivier toe" is daar in die veld om die braaivleisvuur die aand gebore en het ek en my pa dit gereeld saam gespeel. Die eerste opname daarvan is deur 'n broer van my pa, oom Gus Vermeulen, gedurende 1964 gemaak toe daar met die beeste na nuwe weiveld getrek is. Dit was sowat 35 km vanaf die plaas waar ons die eerste aand met die beeste oornag het en was die opname op een van die ou spoel tipe bandopnemers gemaak. Daar in die veld langs die vuur het ek en pa tot laatnag saamgespeel nadat ons 'n lekker skaapribbetjie oor die kole gebraai het.

Name van die snitte Swartkop, Sandkuil, Knopduin, ens. is afkomstig of het betrekking op die betrokke plase of die Kalahari in die algemeen. So ook die naam "Kameelboompan wals" wat na 'n veepos op die plaas vernoem is.

Die Oukraal Orkes het middel sestiger jare sy ontstaan gehad en was ek deel van die orkes. Ons het gereeld by danse, modeparades en derglike geleenthede opgetree. Vir bykans dertig jaar het ek nie aan die kitaar gevat nie en het eendag, nadat my kinders my daarop gewys het, besef dat dié styl, kultuur en geskiedenis van die musiekstyl vir ewig verlore mag gaan. Die 15 snitte op die CD is self gekomponeer en is ook by SAMRO en SARRAL geregistreer ten einde kopireg te beskerm.

Einde ten laaste kon ek die musiek DVD ook nou vrystel nadat die Film en Publikasie Raad ook hulle stempel daarop geplaas het. Ek en my seun, Ernst, het gedurende Augustus 2005 die video opnames in die Kalahari gemaak. Die oorgrote meerderheid van die video is op die voormalige familieplaas geskiet en was dit aangenaam om in die ou voetspore te loop.

Nouja, die res is nou geskiedenis wat ten minste bewaar is!

   

 

© Kopiereg 2009. Alle regte voorbehou • Bedinge en voorwaardes